Chapters ▾ 2nd Edition

1.5 Aan die slag - Git klaarmaak vir eerste gebruik

Git klaarmaak vir eerste gebruik

Noudat jy Git op jou rekenaar het, is dit handig om 'n paar dinge te doen om jou Git-omgewing na jou voorkeure aan te pas. Jy hoef hierdie instellings normaalweg net een keer te doen; hulle bly dieselfde selfs wanneer jy 'n nuwe weergawe van Git installeer. Jy kan dit ook op enige oomblik weer verander deur die opdragte weer uit te voer.

Git bevat standaard 'n nutsmiddel genaamd git config, waarmee jy konfigurasie-eienskappe kan bekyk en verander wat alle aspekte van die voorkoms en gedrag van Git reël. Hierdie eienskappe kan op drie verskillende plekke bewaar word:

  1. Die lêer [path]/etc/gitconfig: Bevat eienskappe vir elke gebruiker op die rekenaar en al hul bewaarplekke (repositories). As jy die --system opsie aan git config meegee, sal dit die konfigurasiegegewens in hierdie lêer lees en skryf. (Omdat dit 'n stelsel-konfigurasielêer is, moet jy administratiewe of superuser-toestemming hê om dit te kan wysig.)

  2. Die lêer ~/.gitconfig of ~/.config/git/config: Eienskappe vir jou rekening. Jy kan Git hierdie lêer laat lees en skryf deur die --global opsie mee te gee, en dit het gevolge vir alle bewaarplekke waarmee jy op jou stelsel werk.

  3. Die konfigurasielêer in die Git-gids (dus .git/config) van die bewaarplek wat jy op die oomblik gebruik: Spesifiek vir daardie een bewaarplek. Jy kan Git hierdie lêer laat lees en skryf deur die --local opsie mee te gee, maar dit is in werklikheid die standaardwaarde. (Nie onverwags nie: jy moet iewers in 'n Git-bewaarplek staan vir hierdie opsie om korrek te werk.)

Elke vlak het voorrang bo die vorige, dus waardes wat in .git/config gebruik word, sal in die plek van dié in [path]/etc/gitconfig gebruik word.

Op stelsels met Windows soek Git na die .gitconfig-lêer in die $HOME-gids (C:\Users\$USER vir die meeste mense). Dit soek ook steeds na [path]/etc/gitconfig, hoewel dit gerelateer is aan die plek waar MSys is, en dit is die plek waar jy Git op jou Windows-rekenaar geïnstalleer het. As jy weergawe 2.x of later van Git for Windows gebruik, is daar ook 'n stelselvlak-konfigurasielêer in C:\Documents and Settings\All Users\Application Data\Git\config op Windows XP, en in C:\ProgramData\Git\config op Windows Vista en later. Hierdie konfigurasielêer kan slegs gewysig word met git config -f <file> as 'n administrateur.

Jy kan al jou instellings en waar hulle vandaan kom sien met hierdie opdrag:

$ git config --list --show-origin

Jou identiteit

Die eerste ding wat jy behoort te doen nadat jy Git geïnstalleer het, is om jou gebruikersnaam en e-posadres in te vul. Dit is belangrik omdat elke "'n commit" in Git hierdie inligting gebruik, en dit onveranderlik ingebed sit in die commits wat jy sal gaan maak:

$ git config --global user.name "John Doe"
$ git config --global user.email johndoe@example.com

Weereens, dit hoef jy net een keer te doen as jy die --global opsie daarby opgee, omdat Git daardie inligting sal gebruik vir alles wat jy op daardie stelsel doen. As jy 'n ander naam of e-posadres wil gebruik vir spesifieke projekte, kan jy die opdrag uitvoer sonder die --global opsie wanneer jy in die gids van daardie projek is.

Baie van die GUI-nutsmiddels sal jou help om dit te doen wanneer jy hulle die eerste keer aanroep.

Jou redigeerder (editor)

Noudat Git weet wie jy is, kan jy die verstek-redigeerder instel wat gebruik sal word as Git jou 'n boodskap wil laat intik. As dit nie ingestel is nie, gebruik Git die stelsel se verstek-redigeerder.

As jy 'n ander redigeerder wil gebruik, soos Emacs, kan jy die volgende doen:

$ git config --global core.editor emacs

As jy, op 'n Windows-stelsel, 'n ander teksredigeerder wil gebruik, moet jy die volledige pad na die uitvoerbare lêer (executable) invul. Dit kan verskil, afhangende van hoe jou redigeerder gelewer is.

In die geval van Notepad++, 'n gewilde redigeerder, sal jy waarskynlik die 32-bit weergawe wil gebruik, omdat — op die oomblik van skryf — nie alle inproppe (plug-ins) deur die 64-bit weergawe ondersteun word nie. As jy op 'n 32-bit Windows-masjien werk, of jy het 'n 64-bit redigeerder op 'n 64-bit masjien, sal jy iets soos dit tik:

$ git config --global core.editor "'C:/Program Files/Notepad++/notepad++.exe' -multiInst -nosession"

As jy 'n 32-bit redigeerder op 'n 64-bit stelsel het, word die program in C:\Program Files (x86) geïnstalleer:

$ git config --global core.editor "'C:/Program Files (x86)/Notepad++/notepad++.exe' -multiInst -nosession"
Note

Vim, Emacs en Notepad++ is gewilde teksredigeerders wat dikwels gebruik word deur ontwikkelaars op Unix-agtige stelsels soos Linux en macOS, of 'n Windows-stelsel. As jy nie bekend is met hierdie redigeerders nie, sal jy dalk moet soek vir spesifieke instruksies oor hoe om jou gunsteling redigeerder vir Git in te rig.

Warning

As jy jou redigeerder nie op hierdie manier inrig nie, sou dit kon gebeur dat jy erg in verwarring raak as Git dit probeer opstart. 'n Voorbeeld op 'n Windows-stelsel sou 'n voortydig beëindigde Git-operasie kon wees tydens 'n redigering wat deur Git opgestart is.

Jou instellings kontroleer

As jy jou instellings wil kontroleer, kan jy die git config --list opdrag gebruik vir 'n lys met al die instellings wat Git vanaf daardie ligging kan vind:

$ git config --list
user.name=John Doe
user.email=johndoe@example.com
color.status=auto
color.branch=auto
color.interactive=auto
color.diff=auto
...

Jy sal sommige sleutels dalk meermale sien verbykom, omdat Git dieselfde sleutel uit verskillende lêers gelees het (byvoorbeeld [path]/etc/gitconfig en ~/.gitconfig). In hierdie geval gebruik Git die laaste waarde van elke unieke sleutel wat dit teëkom.

Jy kan ook bekyk wat Git as instelling het by 'n spesifieke sleutel deur git config <sleutel> in te voer:

$ git config user.name
John Doe
Note

Omdat Git dieselfde konfigurasiewaarde kan lees vanaf meer as een lêer, is dit moontlik dat jy 'n onverwagte waarde sien vir een van hierdie waardes en jy nie weet waarom nie. In daardie gevalle kan jy Git vra na die oorsprong (origin) van daardie waarde, en dit sal jou vertel watter konfigurasielêer die laaste woord gehad het in die bepaling van daardie waarde:

$ git config --show-origin rerere.autoUpdate
file:/home/johndoe/.gitconfig	false