Chapters ▾ 2nd Edition

1.4 Aan die slag - Git Installeer

Git Installeer

Voordat jy Git kan begin gebruik, moet jy dit eers op jou rekenaar beskikbaar stel. Selfs as dit reeds geïnstalleer is, is dit waarskynlik 'n goeie idee om die nuutste weergawe te installeer. Jy kan dit installeer as 'n pakket of via 'n ander installeerder, of die bronkode aflaai en self verpak (compileer).

Note

Hierdie boek is geskryf met Git weergawe 2.8.0 as uitgangspunt. Alhoewel die meeste opdragte wat ons gebruik selfs in baie ou weergawes van Git behoort te werk, kan sommige dalk nie werk nie of effens anders reageer as jy 'n ouer weergawe gebruik. Omdat Git redelik goed is in die handhawing van terugwaartse verenigbaarheid (backwards compatibility), behoort enige weergawe na 2.0 prima te werk.

Installeer op Linux

As jy direk die Git-gereedskap op Linux wil installeer, kan jy dit oor die algemeen doen via die standaard pakketbeheerstelsel wat saam met jou verspreiding (distribution) kom. As jy Fedora gebruik (of 'n direkte verwante RPM-gebaseerde verspreiding (distribution), soos RHEL of CentOS), kan jy dnf gebruik:

$ sudo dnf install git-all

As jy op 'n Debian-verwante verspreiding (distribution) is, soos Ubuntu, kan jy apt probeer:

$ sudo apt install git-all

Vir meer opsies is daar instruksies vir die installering op diverse Unix-verspreidings (distributions) op die Git-webblad by https://git-scm.com/download/linux.

Installeer op macOS

Daar is verskeie maniere om Git op 'n Mac te installeer. Die eenvoudigste is om die Xcode command line tools te installeer. Op Mavericks (10.9) of hoër kan jy dit eenvoudig doen deur git vanaf die rekenaar-terminaal (terminal) by die heel eerste geleentheid aan te roep.

$ git --version

As jy dit nog nie geïnstalleer het nie, sal dit jou vra om dit te installeer.

As jy 'n meer onlangse weergawe wil installeer, kan jy dit via 'n binêre installeerder doen. 'n macOS Git-installeerder word onderhou en is beskikbaar vir aflaai op die Git-webblad by https://git-scm.com/download/mac.

Git macOS installer
Figure 7. Git macOS installer

Installeer op Windows

Daar is ook 'n aantal maniere om Git op Windows te installeer. Die mees amptelike weergawe is beskikbaar vir aflaai op die Git-webblad. Gaan net na https://git-scm.com/download/win en die aflaai sal outomaties begin. Let daarop dat dit 'n projek is genaamd Git for Windows, wat apart van Git self bestaan; vir meer inligting hieromtrent, gaan na https://gitforwindows.org.

Om 'n geoutomatiseerde installasie te verkry, kan jy die Git Chocolatey-pakket gebruik. Let daarop dat die Chocolatey-pakket deur vrywilligers onderhou word.

Installeer vanaf bronkode

Sommige mense vind dit egter nuttig om Git vanaf die bronkode te installeer, omdat jy dan die mees onlangse weergawe kry. Die binêre installeerders loop dikwels effens agter, alhoewel dit minder probleme oplewer omdat Git in die laaste jare behoorlik volwasse geword het.

As jy Git vanaf die bronkode wil installeer, moet jy die volgende biblioteke hê waarvan Git afhanklik is: autotools, curl, zlib, openssl, expat en libiconv. Byvoorbeeld, as jy op 'n stelsel is wat dnf het (soos Fedora) of apt-get (soos 'n Debian-gebaseerde stelsel), kan jy een van die volgende opdragte gebruik om die minimale afhanklikhede te installeer vir die verpakking en installering van die Git binêre lêers:

$ sudo dnf install dh-autoreconf curl-devel expat-devel gettext-devel \
  openssl-devel perl-devel zlib-devel
$ sudo apt-get install dh-autoreconf libcurl4-gnutls-dev libexpat1-dev \
  gettext libz-dev libssl-dev

Om ook die dokumente in die verskillende formate (doc, html, info) te kan byvoeg, is hierdie bykomende afhanklikhede nodig (let wel: gebruikers van RHEL en RHEL-afgeleides soos CentOS en Scientific Linux sal die EPEL repository moet aktiveer om die docbook2X pakket te laai):

$ sudo dnf install asciidoc xmlto docbook2X
$ sudo apt-get install asciidoc xmlto docbook2x

As jy 'n RPM-gebaseerde verspreiding (distribution) gebruik, kan jy ook die getopt pakket benodig (wat reeds op 'n Debian-gebaseerde distro geïnstalleer is):

$ sudo dnf install getopt
$ sudo apt-get install getopt

Aanvullend, as jy Fedora/RHEL/RHEL-afgeleides gebruik, moet jy ook dit doen:

$ sudo ln -s /usr/bin/db2x_docbook2texi /usr/bin/docbook2x-texi

vanweë binêre naamsafwykings.

Wanneer jy alle benodigde afhanklikhede het, kan jy voortgaan en die laaste geëtiketteerde (tagged) vrystellingslêer (release tarball) van een van die vele plekke aflaai. Jy kan dit via die kernel.org-blad kry by https://www.kernel.org/pub/software/scm/git, of die mirror op die GitHub-webblad by https://github.com/git/git/tags. Dit is oor die algemeen iets duideliker aangedui wat die laaste weergawe is op die GitHub-blad, en die kernel.org-blad het ook vrystellingshandtekeninge (release signatures) as jy die afgelaaide lêer wil verifieer.

Daarna, verpak (compileer) en installeer:

$ tar -zxf git-2.8.0.tar.gz
$ cd git-2.8.0
$ make configure
$ ./configure --prefix=/usr
$ make all doc info
$ sudo make install install-doc install-html install-info

As dit afgehandel is, kan jy Git ook via Git self verkry vir opdaterings:

$ git clone https://git.kernel.org/pub/scm/git/git.git